Monday, 26 February 2018

Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor, druk spuite en ander toerusting is noodsaaklik om 'n professionele afwerking te kry.



1. TOERUSTING EN MATERIALE

Toerusting en gereedskap sluit die volgende in:
·         Kompressor
·         Verf spuite
·         Skuurders
·         Meng gereedskap
·         Veiligheidstoerusting

1.1 Kompressor

'n Kompressor is nodig om lugspuite aan te dryf maar daar is ook spuite wat werk sonder lugdruk (“Airless/turbine spuite”). Die grootste verskil tussen die twee is dat lugdruk spuite ‘n baie beter afwerking gee as turbo spuite. Dis ook vinniger want dit plaas meer verf op die hout.

Om die kompressor in goeie toestand te hou moet die volgende gereeld gedoen word:
  • Die lug in die tenk moet minstens 1 x per maand uitgelaat word sodat die water wat in die tenk opgaar, uitgepomp word om roes te voorkom.
  • Lugfilters moet minstens elke drie maande vervang word.
  • Die masjien moet 6 maandeliks skoon gemaak word om stof en aangepakte verf te verwyder.
  • Die kompressor moet sover as moontlik beskerm word teen verfsproei (“overspray”) en stof. Moet egter nie die kompressor met ‘n laken of iets soortgelyks toemaak nie sodat daar die nodige ventilasie sal wees om dit te verkoel.
1.1.1 Hoe om die kompressor te stel

Dit is belangrik om die kompressor reg in te stel sodat dit die regte druk lewer vir die betrokke spuit. Daar is twee meters – een meet die lugdruk in die tenk en een die lugdruk by die spuit se spuitkop (nozzle). Daar is ook ‘n rooi stelknop vir die regulering van die lugdruk.

Doen die volgende om ‘n druk van 3 bar by die spuitkop te kry:
  • Maak seker dat die tenk op maksimum druk is.
  • Konnekteer die spuit en vul die verfkoppie met water.
  • Skakel die kompressor aan en plaas die tenk druk op 4 bar.
  • Druk die spuit en sodra die water spuit let op die druk op die klein meter.
  • As die druk minder is as 3 bar, draai die rooi reguleerknop sodat die druk by die tenk op 5 bar staan.
  • Druk weer die spuit en let op waar die druk op die klein meter staan.
  • As die druk op 3 bar is, draai die reguleerknop vas op die stelling van 5 bar.
Die druk by die spuit is nou op 3 bar en van tyd tot tyd moet seker gemaak word dat die druk konstant bly.

1.2 Verfspuite
Die meeste HVLP gravitasie spuite bestaan uit dieselfde komponente soos 'n spuitkop, verfkoppie, spuitnaald ens. Om die spuit behoorlik skoon te kry moet dit heeltemal uitmekaar gehaal word. Gebruik seepwater om waterverf te verwyder en minerale terpentyn of "thinners" soos voorgeskryf vir olieverf.

1.2.1 Hoe om die spuite te stel

Lugvloei

Dit is belangrik om gereeld die stelling op die spuite en kompressor na te gaan om seker te maak dat die regte mengsel van verf en lug vrygelaat word. Die kombinasie van lug en verf word atomisering (“atomization”) genoem. Die verfstraal word deur die druklug opgebreek in ‘n mis (“atome”) van klein druppeltjies verf wat op die hout gedeponeer word.

As jy te min lug het is die atomisering te min en kan die verf en lug nie behoorlik saam vloei nie. Wanneer die verf droog word, lyk dit soos lemoenskil op die oppervlak. Dit is bekend as “orange peel”.

As jy te veel lug het word die mengsel droog nog voor dit op die hout beland wat ‘n dowwe glans laat. Dit is bekend as droë sproei (“dry spray”).

Die twee lug jets het ‘n addisionele funksie deurdat dit die wydte van die verfbaan (“paint fan”) bepaal. Deur die lugvloei te vermeerder word die verf baan wyer. Met ‘n wyer verfbaan kan ‘n groter area met elke verfbaan gedek word. Deur die lugvloei te verminder word die verfbaan kleiner of smaller en dit word gebruik waar dun stroke geverf wil word soos bv waar klein defekte gevul moet word of smal kante of pote geverf moet word. Deur die nozzle van die spuit te roteer, kan die hoek van die verfbaan verander word (vertikaal of horisontaal) relatief tot die spuit.

Spuit stelling

Daar is drie knoppe op die spuit wat gestel moet word.
 
  • Lugvloei knop.  Dit is die knop wat by die lug inlaat op die onderkant van die spuit se handvatsel  geleë is en wat gebruik word om die hoeveelheid lug te beheer wat deur die spuit vloei. Die knop word gestel deur dit eers heeltemal toe te draai (lugvloei te stop) en dan met een vol draai oop te maak. Dit behoort die regte hoeveelheid lug deur te laat. Indien nodig kan dit nog ‘n halwe draai oopgemaak word. Dit kan getoets word deur op ‘n stuk hout te spuit om te sien of die verflaag egalig is en of genoeg verf gedeponeer word om ‘n blink oppervlak te laat.
  • Verfvloei knop. Dit is die knop geleë agter die spuit en dit reguleer die volume verf wat deur die spuit vloei. Draai eers die knop heeltemal toe en dan word dit twee vol draaie oop gedraai. Toets deur op ‘n stuk hout te spuit en te sien hoeveel verf word gedeponeer. Draai verder oop indien nodig.
  • Verfbaan stelknop. Dit is die knop wat die wydte van die verfbaan bepaal en is geleë aan die kant van die spuit. Draai die knop ongeveer  een kwart oop en toets om ‘n verfbaan van 5 tot 8 cm te kry. Dit is die wydte wat gebruik word om op plat oppervlaktes te spuit. Die verfbaan word kleiner gemaak wanneer kante of hoeke gespuit word.
Die korrekte stelling van die spuit sal verseker dat die korrekte volume verf deur die spuit gaan en met die regte volume lug gemeng word. Saam met die wydte van die verfbaan behoort dit genoeg verf op die oppervlakte te laat om ‘n blink laag verf te los. Onthou dat ten minste twee lae geverf moet word om 100% dekking te verseker.

1.3 Skuurders

Skuurwerk is nodig om 'n gladde oppervlakte te kry. Wanneer die hout gesny word, veroorsaak die snykant dat die houtgrein (haartjies) regop staan en dit moet eers glad geskuur word voordat dit verder geseël word. Die gewone handskuurder word gebruik en skuurpapier wat vir houtwerk bedoel is (oranje velle)  in 150 grit en 220 grit. Waar erge merke op die hout is word 150 gebruik en die gewone skuurwerk 220.

1.4 Verf meng gereedskap

Met spuitverf is dit belangrik dat die meng van die verf baie akkuraat gedoen word en dat die verf skoon moet wees. Daarvoor word die gemerkte meng bakkies (1 liter) gebruik. Dit het ‘n skaal wat uitgemerk is waarvolgens die meng medium (water of terpentyn) afgemeet word. Die bakkies word herhaaldelik gebruik en moet dus onmiddelik na gebruik gewas word.
Meng bakkies

Omdat die verf absoluut suiwer moet wees, word ‘n siffie of gaasdoek gebruik om die verf te sif. Dit moet ook onmiddelik na gebruik gewas word.







1.5 Verf masker en filters

Omdat die verf gespuit word en dit baie fyn is, kan jy dit maklik inasem wat tot gesondheidsprobleme kan lei. Daarom is dit noodsaaklik dat ‘n masker ten alle tye gedra word. Daarby moet jou oë ook beskerm word met ‘n veiligheidsbril en moet jy ook geskikte oorklere dra.

3M verf masker



Verf Filters

1.6 Verf filters

Die filters moet ten minste elke 3 maande vervang word of sodra die verfreuk waargeneem kan word. Die filters bestaan uit drie items -  die filter self (koolstof), die deksel en ‘n materiaal stof filter. Die  filters moet met die regte kant na die gesig ge-installeer word (sien vervaardiger se aanwysing). Die stof filter word met die geskrewe kant onder, op die filter geplaas en dan die deksel bo-op.

1.6 Ventilasie
Die verfsproei (‘overspray”) is ‘n fyn mis wat in die lug sweef en dan neerdaal. Dit is dus baie noodsaaklik dat daar ‘n behoorlike ventilasie in die spuit kamer sal wees. Maak seker dat al die vensters en deure oop is sodat die sproei uitgewaai kan word.
 
2. As jy daarin belangstel om meubels te spuitverf, kan jy gerus kyk na my boek wat ek hieroor geskryf het. Dit is op Amazon KPD beskikbaar in hardeband. Die titel is "How to spraypaint furniture - a guide for beginners"

Saturday, 18 February 2017

Koste om 'n meubelverf besigheid te begin



Geverfde stoele
Om ‘n tuisbesigheid te begin het verskeie voordele – een daarvan is dat jy nie ‘n plaas se geld nodig het om aan die gang te kom nie. Jy kan ook natuurlik op ‘n deeltydse basis begin en namate jou vaardighede toeneem kan jy dit tot ‘n volwaardige besigheid ontwikkel. Om meubels te restoureer en te verf is ‘n ideale tuisbesigheid. Dit verg min kapitaal en daar is altyd ‘n aanvraag na sulke dienste.
 Ek het ou meubels gerestoureer as ‘n stokperdjie en nadat ek afgetree het, het ek dit ontwikkel tot ‘n betalende besigheid wat ek geniet en wat vir ‘n handige ekstra inkomste sorg om my pensioen aan te vul. Jy kan so ‘n besigheid in jou motorhuis begin en as jy enigsins hou van doen-dit-self projekte, sal jy waarskynlik ook die meeste van die gereedskap wat benodig word reeds in jou besit hê

As jy ernstig wil wees om meubels te restoureer en verf, sal jy minstens die volgende toerusting  nodig hê.

Kompressor
  1. 'n Goeie kompressor is noodsaaklik. As jy wil geld maak moet jy 'n professionele diens lewer. Slegs deur dit te spuitverf kan jy 'n professionele afwerking kry. Skaf vir jou 'n 100 liter tenk kapasiteit kompressor aan en minstens twee spuite - 2.0 mmm spuitstuk en 1.4 mm spuitstuk. Eersgenoemde is vir die aanwending van dikker verwe soos Akriliese PVA en die laasgenoemde vir dun spuitstowwe soos vernis en seëllaars.
  2. Belê in goeie skuurtoerusting. Jy benodig minstens 'n orbitale skuurmasjien en 'n band skuurmasjien.'n "Heat gun" is handig om verf te stroop.
  3. Maak seker dat jy 'n ordentlike verfmasker het. Ek beveel 'n 3M halfmasker aan. 
Ek het 'n rowwe beraming gemaak van wat die toerusting jou sal kos. Benewens die vaste koste sal jy natuurlik ook lopende koste hê vir items soos verf filters, verf meng houers, skuurpapier ens.



Kapitale koste
Bedrag                 
Verfgereedskap

Kompressor – 100 liter
R 4 000
Verf spuite – 2mm en 1.4 mm
R 1 200
Verf masker
R   750
Elektriese skuurder
R   500
Belt skuurder
R   750
‘Heat gun”
R   350
Totale kapitaalkoste
R 7 550

Saturday, 3 December 2016

Maak Geld Uit Tuisgemaakte Lekkers



Het jy al daaraan gedink om geld te maak uit tuisgemaakte lekkers? Tuislekkers bied ‘n uitstekende geleentheid om ‘n betalende tuisbesigheid te begin. 
Lekker outydse fudge

Daar is drie belangrike elemente wat jy in ag moet neem as jy ‘n winsgewende tuis onderneming wil begin: 


  • ·         Kies die regte produk

  • ·         Fokus op kwaliteit

  • ·         Kry ‘n effektiewe bemarkingstrategie.

As jy dit oorweeg om in een van die volgende opsies vir tuisgemaakte lekkers te spesialiseer kan jy ‘n hoogs betalende tuisbesigheid begin – geskenk mandjies van tuisgemaakte lekkers, ‘n lekkergoed bouquet besigheid of om te fokus op ‘n besonder lekker tuis resep vir gunstelinge soos fudge, sjokolade truffels, Turkish delight, peanut brittle ens. In my e-boek Baking for Profit –start a home business” gee ek beproefde resepte vir tuis lekkers en klein koekies om vir wins te bak.

Die verkope van lekkers is egter uiters mededingend en tensy jy werklik iets besonders het gaan jy dit moeilik vind om ‘n goeie besigheid op die been te bring. Maar daar is natuurlik baie opsies vir bemarking en die internet bied ‘n besondere geleentheid om ‘n groot aantal potensiële kliënte te bereik.

1. Kies die regte produk



Daar is baie opsies wanneer dit kom by lekkers wat jy kan maak. As jy byvoorbeeld ‘n fundi is in die maak van fudge kan jy met ‘n bietjie kreatiwiteit iets unieks byvoeg om ‘n produk te skep wat jou van die res kan onderskei. Jy kan byvoorbeeld jou basiese fudge resep aanpas deur die byvoeging van bestanddele soos:


  • ·         Pepperment en groen voedsel kleursel bedek met sjokolade

  • ·         Voeg grondboontjies en neute by en bedek met wit sjokolade

  • ·         Voeg klapper en geursels by

  • ·         Gebruik gekleurde gom lekkers en voeg dit by die fudge om dit helderkleurige lekkerte te    gee.

  • ·         Voeg bestanddele by soos marshmallows, grondboontjie botter, sjokolade stukkies en neute.
So kan jy jou fudge in verskillende geure bemark. Jy kan ook jou produk koppel aan verskillende belangrike gebeurtenisse soos:
  • ·         Kersfees fudge
  • ·         Moedersdag fudge ens.
Ek het hierdie pad geloop en op 10 resepte vir lekkers en koekies gestandardiseer soos in Baking for Profit” uiteengesit. Daarin kry jy beproefde resepte, ‘n bemarkingstrategie en ‘n model om winsgewende pryse te bepaal.

2   2.  Fokus op kwaliteit

Konstante pogings om elke baksel teen dieselfde hoë kwaliteit te bak is ‘n sleutel bestandeel vir sukses. Wanneer jy jou besigheid begin moet dit jou doelwit wees om ‘n reputasie vir kwaliteit produkte te bou. Daarom is dit belangrik dat jy beproefde resepte gebruik en dat jy streng sal hou by die resep. Dieselfde maatbekers en -lepels moet moet deurgaans gebruik word. Noukeurigheid in die afmeet van bestanddele is absoluut noodsaaklik. Kwaliteit is ook nie goedkoop nie. Gebruik net die beste bestanddele en moenie in die versoeking kom om goedkoop plaasvervangers te gebruik nie. Gebruik bv keurbotter in plaas van margarien.


Jy kan nie lekkers maak sonder ‘n goeie termometer nie. Daar is spesiale termometers om met suiker en sjokolade te werk en dit skakel variasies uit. Onthou om ‘n nuwe termometer eers te toets voordat jy dit gebruik. Water kook teen 100 grade celcius by die kus en teen ‘n laer temperatuur in die binneland. Kook ‘n pot water en kyk wat die lesing op die termometer is en vergelyk dit met die standaard. Maak dan die nodige aanpassings wanneer jy die termometer gebruik.

 3. Gebruik effektiewe bemarkingstegnieke
 
Tuis lekkers moet gemik wees op die meer kieskeurige kliënt wat bereid is om ‘n premie vir iets besonders te betaal. Die redes hiervoor is:

·         Eerstens -  jou verkoopsprys moet ‘n ordentlike winsmarge hê om jou vir jou moeite te beloon. Dit maak nie sin om met die groot kommersiële besighede meet te ding nie. Dit maak ook nie sin om al die moeite te doen en dan nie ‘n behoorlike inkomste daaruit te vedien nie.
·         Tweedens - Dit gaan jou geld kos om kwaliteit produkte te bemark. Gebruik goed ontwerpte verpakkingsmateriaal om die produkte in te verpak. Die verpakking is 50% van die sukses van jou produk- so moenie daarop afskeep nie.
·         Derdens - sonder ‘n goed ontwerpte webblad kan jy nie op die internet bemark nie. Dit sal jou loon om ook hierop geld te spandeer.
·         Vierdens - gebruik ander bemarkingskanale soos tuis nywerhede, vlooimarkte ens. om jou produkte te bemark.

As jy dit oorweeg om tuisgemaakte lekkers en klein koekies te maak en 'n tuisbesigheid te begin, kan jy in my eboek sien hoe ek dit reg gekry het om 'n suksevolle tuisbesigheid te begin.





Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor...