Monday, 26 February 2018

Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor, druk spuite en ander toerusting is noodsaaklik om 'n professionele afwerking te kry.



1. TOERUSTING EN MATERIALE

Toerusting en gereedskap sluit die volgende in:
·         Kompressor
·         Verf spuite
·         Skuurders
·         Meng gereedskap
·         Veiligheidstoerusting

1.1 Kompressor

'n Kompressor is nodig om lugspuite aan te dryf maar daar is ook spuite wat werk sonder lugdruk (“Airless/turbine spuite”). Die grootste verskil tussen die twee is dat lugdruk spuite ‘n baie beter afwerking gee as turbo spuite. Dis ook vinniger want dit plaas meer verf op die hout.

Om die kompressor in goeie toestand te hou moet die volgende gereeld gedoen word:
  • Die lug in die tenk moet minstens 1 x per maand uitgelaat word sodat die water wat in die tenk opgaar, uitgepomp word om roes te voorkom.
  • Lugfilters moet minstens elke drie maande vervang word.
  • Die masjien moet 6 maandeliks skoon gemaak word om stof en aangepakte verf te verwyder.
  • Die kompressor moet sover as moontlik beskerm word teen verfsproei (“overspray”) en stof. Moet egter nie die kompressor met ‘n laken of iets soortgelyks toemaak nie sodat daar die nodige ventilasie sal wees om dit te verkoel.
1.1.1 Hoe om die kompressor te stel

Dit is belangrik om die kompressor reg in te stel sodat dit die regte druk lewer vir die betrokke spuit. Daar is twee meters – een meet die lugdruk in die tenk en een die lugdruk by die spuit se spuitkop (nozzle). Daar is ook ‘n rooi stelknop vir die regulering van die lugdruk.

Doen die volgende om ‘n druk van 3 bar by die spuitkop te kry:
  • Maak seker dat die tenk op maksimum druk is.
  • Konnekteer die spuit en vul die verfkoppie met water.
  • Skakel die kompressor aan en plaas die tenk druk op 4 bar.
  • Druk die spuit en sodra die water spuit let op die druk op die klein meter.
  • As die druk minder is as 3 bar, draai die rooi reguleerknop sodat die druk by die tenk op 5 bar staan.
  • Druk weer die spuit en let op waar die druk op die klein meter staan.
  • As die druk op 3 bar is, draai die reguleerknop vas op die stelling van 5 bar.
Die druk by die spuit is nou op 3 bar en van tyd tot tyd moet seker gemaak word dat die druk konstant bly.

1.2 Verfspuite
Die meeste HVLP gravitasie spuite bestaan uit dieselfde komponente soos 'n spuitkop, verfkoppie, spuitnaald ens. Om die spuit behoorlik skoon te kry moet dit heeltemal uitmekaar gehaal word. Gebruik seepwater om waterverf te verwyder en minerale terpentyn of "thinners" soos voorgeskryf vir olieverf.

1.2.1 Hoe om die spuite te stel

Lugvloei

Dit is belangrik om gereeld die stelling op die spuite en kompressor na te gaan om seker te maak dat die regte mengsel van verf en lug vrygelaat word. Die kombinasie van lug en verf word atomisering (“atomization”) genoem. Die verfstraal word deur die druklug opgebreek in ‘n mis (“atome”) van klein druppeltjies verf wat op die hout gedeponeer word.

As jy te min lug het is die atomisering te min en kan die verf en lug nie behoorlik saam vloei nie. Wanneer die verf droog word, lyk dit soos lemoenskil op die oppervlak. Dit is bekend as “orange peel”.

As jy te veel lug het word die mengsel droog nog voor dit op die hout beland wat ‘n dowwe glans laat. Dit is bekend as droë sproei (“dry spray”).

Die twee lug jets het ‘n addisionele funksie deurdat dit die wydte van die verfbaan (“paint fan”) bepaal. Deur die lugvloei te vermeerder word die verf baan wyer. Met ‘n wyer verfbaan kan ‘n groter area met elke verfbaan gedek word. Deur die lugvloei te verminder word die verfbaan kleiner of smaller en dit word gebruik waar dun stroke geverf wil word soos bv waar klein defekte gevul moet word of smal kante of pote geverf moet word. Deur die nozzle van die spuit te roteer, kan die hoek van die verfbaan verander word (vertikaal of horisontaal) relatief tot die spuit.

Spuit stelling

Daar is drie knoppe op die spuit wat gestel moet word.
 
  • Lugvloei knop.  Dit is die knop wat by die lug inlaat op die onderkant van die spuit se handvatsel  geleë is en wat gebruik word om die hoeveelheid lug te beheer wat deur die spuit vloei. Die knop word gestel deur dit eers heeltemal toe te draai (lugvloei te stop) en dan met een vol draai oop te maak. Dit behoort die regte hoeveelheid lug deur te laat. Indien nodig kan dit nog ‘n halwe draai oopgemaak word. Dit kan getoets word deur op ‘n stuk hout te spuit om te sien of die verflaag egalig is en of genoeg verf gedeponeer word om ‘n blink oppervlak te laat.
  • Verfvloei knop. Dit is die knop geleë agter die spuit en dit reguleer die volume verf wat deur die spuit vloei. Draai eers die knop heeltemal toe en dan word dit twee vol draaie oop gedraai. Toets deur op ‘n stuk hout te spuit en te sien hoeveel verf word gedeponeer. Draai verder oop indien nodig.
  • Verfbaan stelknop. Dit is die knop wat die wydte van die verfbaan bepaal en is geleë aan die kant van die spuit. Draai die knop ongeveer  een kwart oop en toets om ‘n verfbaan van 5 tot 8 cm te kry. Dit is die wydte wat gebruik word om op plat oppervlaktes te spuit. Die verfbaan word kleiner gemaak wanneer kante of hoeke gespuit word.
Die korrekte stelling van die spuit sal verseker dat die korrekte volume verf deur die spuit gaan en met die regte volume lug gemeng word. Saam met die wydte van die verfbaan behoort dit genoeg verf op die oppervlakte te laat om ‘n blink laag verf te los. Onthou dat ten minste twee lae geverf moet word om 100% dekking te verseker.

1.3 Skuurders

Skuurwerk is nodig om 'n gladde oppervlakte te kry. Wanneer die hout gesny word, veroorsaak die snykant dat die houtgrein (haartjies) regop staan en dit moet eers glad geskuur word voordat dit verder geseël word. Die gewone handskuurder word gebruik en skuurpapier wat vir houtwerk bedoel is (oranje velle)  in 150 grit en 220 grit. Waar erge merke op die hout is word 150 gebruik en die gewone skuurwerk 220.

1.4 Verf meng gereedskap

Met spuitverf is dit belangrik dat die meng van die verf baie akkuraat gedoen word en dat die verf skoon moet wees. Daarvoor word die gemerkte meng bakkies (1 liter) gebruik. Dit het ‘n skaal wat uitgemerk is waarvolgens die meng medium (water of terpentyn) afgemeet word. Die bakkies word herhaaldelik gebruik en moet dus onmiddelik na gebruik gewas word.
Meng bakkies

Omdat die verf absoluut suiwer moet wees, word ‘n siffie of gaasdoek gebruik om die verf te sif. Dit moet ook onmiddelik na gebruik gewas word.







1.5 Verf masker en filters

Omdat die verf gespuit word en dit baie fyn is, kan jy dit maklik inasem wat tot gesondheidsprobleme kan lei. Daarom is dit noodsaaklik dat ‘n masker ten alle tye gedra word. Daarby moet jou oë ook beskerm word met ‘n veiligheidsbril en moet jy ook geskikte oorklere dra.

3M verf masker



Verf Filters

1.6 Verf filters

Die filters moet ten minste elke 3 maande vervang word of sodra die verfreuk waargeneem kan word. Die filters bestaan uit drie items -  die filter self (koolstof), die deksel en ‘n materiaal stof filter. Die  filters moet met die regte kant na die gesig ge-installeer word (sien vervaardiger se aanwysing). Die stof filter word met die geskrewe kant onder, op die filter geplaas en dan die deksel bo-op.

1.6 Ventilasie
Die verfsproei (‘overspray”) is ‘n fyn mis wat in die lug sweef en dan neerdaal. Dit is dus baie noodsaaklik dat daar ‘n behoorlike ventilasie in die spuit kamer sal wees. Maak seker dat al die vensters en deure oop is sodat die sproei uitgewaai kan word.
 
2. As jy daarin belangstel om meubels te spuitverf, kan jy gerus kyk na my boek wat ek hieroor geskryf het. Dit is op Amazon KPD beskikbaar in hardeband. Die titel is "How to spraypaint furniture - a guide for beginners"

No comments:

Post a Comment

Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor...