Thursday, 30 June 2016

Geverfde meubels

Toonbank met maroon bolaag en lig groen onderlaag.
Ek is die afgelope 5 jaar doenig met die restorasie en verf van ou meubels en kombuiskaste. Ek maak hoofsaaklik van 'n kompressor en drukspuit gebruik maar met sommige verftegnieke kan jy nie anders as om 'n verfkwas te gebruik nie. Daar is natuurlik 'n groot verskeidenheid verftegnieke maar ek gebruik hoofsaaklik tegnieke soos veroudering (distressing) en "layering" waar meer as een kleur op mekaar geverf word en die boonste op sommige plekke weg geskuur word om die onderste laag te wys.

Rottang en "wicker" meubels verf ook baie goed - veral met spuitverf. Die lugdruk spuit kom maklik tussen al die gleufies in en werk vinnig en die verf dek maklik op rottang.

Wicker stoel in wit
Die stoel op die foto was in 'n swak toestand en die gevlegde ratan het plek-plek al begin swart word. Die stoel is dus eers behoorlik met suikerseep gewas om al die stof en aanpaksels weg te kry. Daarna is die stukke rattan wat los gegaan het met 'n krammasjien vas gekram. Die eindresultaat was ongelooflik.

Rottang stoele in wit
Die rottangstoele en tafeltjie was ook in 'n swak toestand maar met 'n bitejie geduld en my spuit kon ek hulle weer nuwe lewe gee.

Voordat jy daaraan dink om van die ou afgeleefde meubelstuk ontslae te raak, kan jy dit gerus probeer verf. Dit is maklik en die ou stuk sal weer soos nuut lyk.

Monday, 27 June 2016

Die Beste Masker Vir Spuitverf

3M Half Masker
Omdat spuitverf skadelik kan wees as jy die verfsproei sou inasem, is dit absoluut noodsaaklik dat jy ‘n goeie gesigmasker sal dra. Daar is natuurlik baie soorte op die mark maar die belangrikste is dat dit geskik moet wees vir spuitverf. Dit beteken dat die filterkasette in staat moet wees om organiese gasse en verfdampe te kan absorbeer en om stofdeeltjies te kan opvang voordat jy dit inasem. Dit is ook ablsoluut noodsaaklik dat daar genoegsame ventilasie van lug moet wees in die verflokaal sodat verfsproei weggevoer kan word. Maak dus seker dat jy deure en vensters oopmaak of gebruik ‘n waaier om die lug uit die ruimte te suig.

Soorte gesigmaskers
Die mees algemene tipe maskers is die volgende:

Lugsuiweringsmasker (Air purifying respirator of APR)
Lugvoorsieningsmasker ( Air supplied respirator of SAR)

Die eerste tipe werk met filterkasette wat gevul  is met absorberende materiaal soos koolstof korrels wat in staat is om gasse te absorber. Party bevat ook ‘n stof filter wat saam met die kasset ge-installeer word.  Die maskers pas gewoonlik styf op jou gesig en verhoed die insyfering van lug langs die kante. Die volgende soorte lugsuiweringsmaskers is beskikbaar:

                Kwart masker – bedek slegs die neus en mond.
                Half masker – bedek die ken, neus en mond.
                Vol masker – bedek die hele gesig. Dit beskerm ook die oë.

Die tweede tipe masker ( lugvoorsieningsmasker) maak gebruik van 'n kompressor om lug direk in die masker in te voer.  Dit is belangrik dat die lug wat voorsien word aan minimum standaarde vir suiwer lug en voginhoud moet voldoen. Die tipe stelsel is meestal vir groot spuitverf toepassings en ek sou dit nie vir DIY of klein werke aanbeveel nie. Die vol- en half maskers is meer as voldoende vir ‘n tuisbesigheid.

Masker onderhoud
Filters moet gereeld nagegaan word om te verseker dat dit lugdig pas en dat die filters nog goed funksioneer. Die filters het ‘n beperkte leeftyd en moet vervang word sodra dit nie meer die verfdampe absorbeer nie. Sodra die filter versadig is sal jy dit dadelik agterkom omdat jy die verf sal ruik of proe terwyl jy die masker op het. Die beste is om die voorskrifte van die vervaardiger streng te volg. Na my mening is die 3 M maskers by verre die beste en alhoewel hulle heelwat duurder is as meeste ander make, sal jy in die lang duur die beste diens van hierdie maskers kry.

Omdat die filters duur is, kan jy in die versoeking kom om hulle so lank as moontlik te gebruik maar dit moet vervang word op basis van die volgende oorwegings:

 Sodra jy die verf kan ruik of proe.
             Wanneer dit gereeld gebruik word moet dit na 40 uur gebruik vervang word.
             Vervang die filters as die vervaldatum bereik word.
             Vervang die filters na 6 maande selfs al was dit nooit gebruik nie.

Nuwe filters moet in die lugdigte verpakking gehou word totdat dit gebruik word. Die rede hiervoor is dat die koolstof gasse uit die atmosfeer absorbeer selfs al is dit nie in werking nie.

Aanbeveling
Ek sal dus aanbeveel dat jy in ‘n half- of volgesig 3M masker belê en dat jy die bruin filterkasset gebruik wat spesifiek bedoel is om verfdampe en stof te filtreer. Dit is nie die moeite werd om die goedkoper tipes te gebruik nie want jou gesondheid kan op die lang duur daaronder lei.

Onthou dat as jy ‘n half gesig masker gebruik, moet jy ook jou oë beskerm deur ‘n geskikte veilgheidsbril te dra.

Indien jy meer inligting oor maskers en ander veiligheidstoerusting verlang, kan jy my gerus kontak deur ‘n e-pos te stuur.

Saturday, 18 June 2016

Kies die regte kompressor vir spuitverf



As jy ernstig is oor die spuitverf van meubels en kaste, moet jy die regte lug  kompressor aanskaf wat genoeg saamgeperste lug sal verskaf om die spuit doeltreffend te laat funksioneer. Daar is baie soorte kompressors op die mark. Vir spuitverf sal die tipe kompressor afhang van die tipe spuit wat jy gaan gebruik. Wanneer jy ‘n spuit aanskaf moet jy kyk na die gemiddelde lug verbruik in KVM ( kubieke voet per minuut) of Liter/minuut asook na die werkdruk (Bar of psi – “pounds per square inch”) waarmee die spuit teen optimum sal spuit. Die kompressor moet dus minstens die gevraagde lug volume en druk kan verskaf – ook genoem FAD of “free air delivery”. Onthou dat gravitase spuite minder lugdruk benodig as suig spuite. Die mees algemene spuit wat vir meubels gebruik word is die sgn. HVLP (“ high volume low pressure”) spuite. Dit spuit ‘n hoë volume verf teen ‘n lae druk. Maak dus seker dat die kompressor ‘n hoë volume lug kan produseer.

Daar is hoofsaaklik twee tipes lug kompressors. Die direkte aangedrewe kompressor en die belt aangedrewe kompressor. Eersgenoemde is meer bedoel vir stokperdjie beoefenaars terwyl die tweede meer geskik is vir werkswinkel toepassings. 

Die direkte aangedrewe kompressors is gewoonlik heelwat goedkoper as die belt kompressors en is geskik vir lae volume werk teen laer lugdruk. Die belt kompressors lewer meer saamgeperste lug teen hoër druk maar is ook heelwat duurder.  Die eersgenoemde het natuurlik ook ‘n kleiner tenk (gewoonlik 50 liter) terwyl die belt kompressor kom met tenks wat wissel van 100 liter tot meer as 200 liter.

Om die regte grootte te kies moet jy dus hoofsaaklik na die volgende twee aspekte kyk:

1.      Die lewering van lug in kvm of psi. Die kleiner kompressors kom gewoonlik met ‘n twee perdekrag motor en lewer 7 kvm. ‘n Drie PK motor lewer ongeveer 10 kvm.
2.      Die grootte van die lugtenk. Die 50 liter hou nie veel lug nie en as jy redelik groot oppervlaktes gaan spuit, moet jy soms wag met die spuit totdat die tenk weer op kapasiteit is. Die 100 liter hou genoeg lug om redelik ver te spuit voor die tenk se kapasiteit te laag raak. As jy ‘n 3 PK motor het, sal dit die tenk weer binne ‘n minuut of wat op kapasiteit kry terwyl jy kan aanhou om te spuit.

As jy ‘n beginner is en nie te veel spuitwerk gaan doen nie ( ongeveer 5-10 uur per week) en jy gebruik ‘n standard HVLP gravitasie spuit, sal ek aanbeveel dat jy begin met ‘n goedkoop 2 PK kompressor met ‘n 50 liter tenk. Die voordeel van die kleiner kompressor is dat dit natuurlik baie ligter is en dus maklik vervoer kan word – veral as jy op die terrein moet werk. 

As jy meer gevorderd is met spuitwerk en jy sp
100 L kompressor 3 PK motor
uit gereeld redelik groot oppervlaktes ( veral kombuiskaste en groot meubels) sal ek beslis aanbeveel dat jy gaan vir die 3 PK motor met 100 liter tenk. Dit is wel duurder maar jy gaan soveel meer gedoen kry en werk van ‘n hoë gehalte kan lewer.

Sunday, 12 June 2016

MAAK GELD MET OU MEUBELS



Is dit regtig moontlik om geld te maak met ou, afgeleefde meubels? Die antwoord is ja, beslis! Ek het na my aftrede begin om ou meubels te restoureer en oor te verf of vernis en wat as ‘n stokpedjie begin het is nou ‘n betalende besigheid. Daar is egter ‘n paar basiese dinge wat jy reg moet doen om sukses te behaal. 

Daar is basies twee maniere om met ou meubels geld te maak. Die eerste is dat jy items kan aankoop om na restourasie weer te verkoop. Dit is pad wat met ‘n styl leerkurwe gepaard gaan en waar jy ook maklik geld kan verloor. Die tweede is om ander mense se ou meubels vir hulle te restoureer en so ‘n inkomste te verdien. Dit is baie minder riskant en alhoewel dit tyd vat om ‘n behoorlike kliëntebasis op te bou, is dit die pad wat ek sou aanbeveel. Dit het ook die verdere voordeel dat dit jou die geleentheid bied om jou vaardigheid te verbeter en om so groter projekte aan te pak. Die vraag is natuurlik hoe jy jou kliëntebasis kan uitbrei. 

Daar is baie maniere om in die restourasie bedryf betrokke te raak Die eerste is natuurlik jou familie en vriende. As jy met hulle begin kan jy redelik maklik ‘n portefeulje opbou sodat jy dit vir verdere bemarking kan aanwend. Die volgende tipe besighede kan potensiële kliënte wees.

Binnehuis versierders

Dikwels het hulle kliënte ou meubels wat nie aanpas by die nuwe decór wat die ontwerper aanbeveel nie en moet die ontwerper óf nuwe meubels aanbeveel óf moet dit oor geverf word om aan te pas. Dit skep ‘n unieke geleentheid om jou vaardighede te bemark. As jy in jou omgewing  binnehuis versierders het sal dit jou beslis loon om ‘n goeie verhouding met hulle aan te knoop. Dit kan ‘n bestendige werkvloei vir jou verseker.

Tweedehandse meubelwinkels

Gerestoureerde ou riempiesbank
Daar is baie tweedehandse winkels wat ou meubels inkoop wat gerestoureer moet word en soms het hulle nie die interne vermoë om sulke werk te doen nie.

Kombuiskas vervaardigers

Daar is deesdae ‘n groeiende vraag na geverfde kombuiskaste en baie vervaardigers (veral die kleineres) het nie die kundigheid om professionele verfwerk (spuitverf) self te doen nie. Weereens kan samewerking met so ‘n besigheid baie lonend wees en kan dit jou besigheid tot nuwe hoogtes vat. Ek sou egter dit nie aanbeveel voordat jy nie die vaardigheid van spuitverf tegnieke deeglik onder die knie het nie. 

Op grond van my eie ervaring in hierdie bedryf, het ek ‘n e-boek “Refinish Old Furniture – start a home business” ( ook in gedrukte vorm beskikbaar) saamgestel wat jou kan help om die nodige vaardighede aan te leer en om jou te help met die ontwikkeling van jou besigheid. Kontak my gerus per e-pos vir verdere besonderhede.



Spreuke 14: 4

As daar nie osse is nie, bly die voerkrip leeg.
Met net een goeie os bring jy ʼn groot oes in.

Friday, 10 June 2016

Begin 'n tuisbesigheid - restoureer en verf ou mebels



Spreuke 14: 4

As daar nie osse is nie, bly die voerkrip leeg.
Met net een goeie os bring jy ʼn groot oes in.


 Restoreer en verf ou meubels 

Het jy dit al ooit oorweeg om ‘n besigheid van die huis af op ‘n deeltydse of voltydse basis te bedryf? Meeste mense is deesdae onder druk om die finansies te laat klop. ‘nTuisbesigheid kan die antwoord wees om jou finasiële probleme op te los.  Die restourasie van ou meubels kan maklik vanaf jou huis bedryf word en kan met die minimum kapitaal begin word. Al wat jy nodig het is ʼn plek wat groot genoeg is om in te werk soos bv. ʼn motorhuis en sekere basiese gereedskap.

 Bal en klou stoel in wit geverf en gestoffeer

Dit het deesdae mode geword om ou meubles te restoureer en te verf. Die outydse “bruin”  meubels is net nie meer aanvaarbaar nie en ten spyte van die feit dat jy nie maklik die kwaliteit van die hout en selfs die vakmanskap daarvan kan betwis nie, wil meeste mense die ou  meubels verander om 'n meer moderne voorkoms te hê.  Dit het ‘n gulde geleentheid geskep vir die omskepping van die meubels in geverfde stukke wat tans hoog mode is. 

Ek is nie ‘n skrynwerker nie – sal ek dit kan doen?

Hier is ‘n paar dinge vanuit ‘n persoonlike oogpunt wat ek dink belangrik is om te oorweeg:
  •  Is jy handig en hou jy daarvan om met hout te werk?
  • Het jy 'n belangstelling in outydse goed soos meubels? Wil jy graag ‘n ekstra inkomste verdien? Sal jy dalk in die toekoms dit wil ontwikkel tot ‘n voltydse besigheid? 
  • As jou antwoorde positief is, is jy die regte persoon om so iets aan te pak – maak nie saak of jy oud of jonk is nie en of jy geld het of nie. Al wat jy moet doen is om so gou moontlik aan die gang te kom. 

Wat se gereedskap het jy nodig?

Die meeste van die gereedskap wat jy in die beginstadium benodig , het jy waarskynlik alreeds. Hier is ‘n lys wat die belangrikste items aandui:
  • .       Houtwerkgereedskap soos ‘n elektriese boor,  elektriese sirkelsaag ens.
  • .       Handgereedskap soos skroewe draaiers, tange, hout beitels ens.
  • .       Skuur toerusting soos ‘n elektriese hand skuurder, band skuurder ens
  • .       Verf toerusting soos sponsrollers, verfkwaste, verfskrapers ens.

Soos jou vaardigheid verbeter, sal jy jou verf kwaliteit wil verbeter en daarom sal dit nodig wees dat jy spuitverftoerusting aanskaf. Hierdie is egter redelike duur items en jy sal benewens spuite ook ‘n lug kompressor met ‘n 100 liter tenk benodig. 

Waar moet ek begin?

My raad is om eers klein te begin om die basiese vaardighede te bemeester. Neem enige ou afgeleefde meublestuk waarop jy jou hande kan lê en begin deur die nodige herstelwerk te doen.  Dit mag beteken dat jy lendelam pote moet herstel of laaie wat nie behoorlik werk nie te herstel of om krake, skrape ens te herstel.

Die volgende stap is om te besluit of jy die stuk net oor gaan seël met ‘n seëllaar en of jy dit gaan verf.  Die stappe vir beide opsies is kortweg die volgende:
  
  • Maak die stuk skoon deur dit behoorlik met suikerseep te was.
  • .       Skuur die ou deklaag so goed as moontlik af en vul skrape ens. met houtvuller en werk dit af tot die hout glad is.
  • .       Verf ‘n onderlaag aan en laat dit minstens oornag staan voor die bolaag aangewend word
  • .       Voor jy die eerste bolaag aanwend,moet die stuk behoorlik met ‘n fyn skuurpapier ( 220 grint) afgewerk word.
  • .       Skuur weer af voor die tweede bolaag aangewend word.

Waar kan ek hulp kry?

As jy so gou moontlik ‘n bedrewe restoureerder wil wees, sal dit raadsaam wees om hulp te kry van iemand wat reeds die pad geloop het en jou van raad kan bedien. Dit sal voorkom dat jy onnodige  en soms duur foute begaan. Ek is reeds meer as 5 jaar hiermee besig en het ‘n e-boek saamgestel wat al die aspekte van so ‘n besigheid in detail uiteensit. Jy is baie welkom om my te kontak deur 'n e-pos aan my te stuur. 
 


 

Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor...