Is dit regtig moontlik om
geld te maak met ou, afgeleefde meubels? Die antwoord is ja, beslis! Ek het na
my aftrede begin om ou meubels te restoureer en oor te verf of vernis en wat as
‘n stokpedjie begin het is nou ‘n betalende besigheid. Daar is egter ‘n paar
basiese dinge wat jy reg moet doen om sukses te behaal.
Daar is basies twee maniere
om met ou meubels geld te maak. Die eerste is dat jy items kan aankoop om na
restourasie weer te verkoop. Dit is pad wat met ‘n styl leerkurwe gepaard gaan
en waar jy ook maklik geld kan verloor. Die tweede is om ander mense se ou meubels
vir hulle te restoureer en so ‘n inkomste te verdien. Dit is baie minder
riskant en alhoewel dit tyd vat om ‘n behoorlike kliëntebasis op
te bou, is dit die pad wat ek sou aanbeveel. Dit het ook die verdere voordeel
dat dit jou die geleentheid bied om jou vaardigheid te verbeter en om so groter
projekte aan te pak. Die vraag is natuurlik hoe jy jou kliëntebasis
kan uitbrei.
Daar is baie maniere om in
die restourasie bedryf betrokke te raak Die eerste is natuurlik jou familie en
vriende. As jy met hulle begin kan jy redelik maklik ‘n portefeulje opbou sodat jy dit vir verdere bemarking kan aanwend.
Die volgende tipe besighede kan potensiële kliënte
wees.
Binnehuis versierders
Dikwels het hulle kliënte ou
meubels wat nie aanpas by die nuwe decór wat die ontwerper aanbeveel nie en
moet die ontwerper óf nuwe meubels aanbeveel óf moet dit oor geverf word om aan
te pas. Dit skep ‘n unieke geleentheid om jou vaardighede te bemark. As jy in
jou omgewing binnehuis versierders het sal dit jou beslis loon om ‘n goeie
verhouding met hulle aan te knoop. Dit kan ‘n bestendige werkvloei vir jou
verseker.
Tweedehandse meubelwinkels
Gerestoureerde ou riempiesbank |
Daar is baie tweedehandse
winkels wat ou meubels inkoop wat gerestoureer moet word en soms het hulle nie
die interne vermoë om sulke werk te doen nie.
Kombuiskas vervaardigers
Daar is deesdae ‘n groeiende
vraag na geverfde kombuiskaste en baie vervaardigers (veral die kleineres) het
nie die kundigheid om professionele verfwerk (spuitverf) self te doen nie. Weereens
kan samewerking met so ‘n besigheid baie lonend wees en kan dit jou besigheid
tot nuwe hoogtes vat. Ek sou egter dit nie aanbeveel voordat jy nie die
vaardigheid van spuitverf tegnieke deeglik onder die knie het nie.
Op grond van my eie ervaring
in hierdie bedryf, het ek ‘n e-boek “Refinish Old Furniture – start a home business” ( ook in gedrukte vorm
beskikbaar) saamgestel wat jou kan help om die nodige vaardighede aan te leer
en om jou te help met die ontwikkeling van jou besigheid. Kontak my gerus per
e-pos vir verdere besonderhede.
Spreuke
14: 4
As daar nie osse is nie, bly die voerkrip leeg.
Met net een goeie os bring jy ʼn groot oes in.
No comments:
Post a Comment