Thursday, 27 October 2016

Verouderingstegniek Deur Verf Van Meubels

Die tegniek om meubels te "verouder" of om dit te laat lyk of dit verweer is, is 'n dekoratiewe tegniek wat baie populer geword het en wat gebruik word om ou meubels 'n vars nuwe voorkoms te gee.Dit vorm deel van die sogenaamde "refinishing" of oorverf van meubels. Die algemeenste vorm is waar die boonste verflaag afgeskuur word op plekke waar natuurlike slytasie sou plaasvind om sodoende die oorspronklike hout of 'n verf onderlaag bloot te stel. Daar is selfs gevalle waar die hout oppervlak doelbewus beskadig word deur met 'n voorwerp daarop te slaan om duike te vorm om so die stuk te verouder. Die mate van veroudering hang grootliks af van persoonlike smaak maar daar is tog 'n paar aspekte wat oorweeg moet word.
Ou hangkas aggresief "verouder"

 Eerstens speel die styl van die meubelstuk 'n rol. Die doel met veroudering is om nie die karakter van die meubelstuk te  verander nie maar eerder om dit te beklemtoon.

Waar 'n meubelstuk patrone het wat skerp rantjies vorm is dit maklik om die randjies te skuur om die onderste laag te vertoon. Die proses kan delikaat van aard wees waar slegs fyn strepies vertoon word of meer aggresief waar groot dele van die onderste lae blootgestel word.

Tweedens is dit so dat sekere houtsoorte soos Den hulle daartoe leen om verouder te word. Donker houtsoorte soos Imbuia maak weer 'n mooi vertoning wanneer die hout blootgele word. Meubels wat van laaghout of "chipboard" gemaak is, gee nie baie goeie resultate met veroudering nie.

Dit is nodig om daarop te wys dat "chabby chic" en "distressing" nie na dieslefde ding verwys nie. Eersgenoemde is eerder 'n dekoratiewe styl wat meer insluit as net die verf van meubels. Ligte kleure soos pienk met blompatrone in gordyne, kussings ens. word gebruik saam met meubels wat verouder is om so 'n geheel prentjie van 'n vertrek te gee.




Sunday, 23 October 2016

Besigheidsplan vir verf van meubels tuisbesigheid



Miskien sal jy dink dat om ‘n besigheidsplan vir ‘n tuisbesigheid te ontwikkel ‘n mors van tyd is. Die feit is dat selfs vir tuisbesighede dit myns insiens ‘n besondere waardevolle oefening is want dit dwing jou om deur ‘n dinkproses te gaan en te visualiseer hoe die besigheid kan ontwikkel. Dit help natuurlik ook om op die belangrike goed te fokus en om jouself aan sekere doelwitte te verbind. Die punt is dat ‘n tuisbesigheid soos enige ander besigheid benader moet word om dit ‘n sukses te maak.
‘n Goeie besigheidsplan moet sekere kern vrae beantwoord en dit verg behoorlike navorsing om  goeie antwoorde daarop te kry. Hier is ‘n paar riglyne:

            Hoekom wil jy ‘n meubelverf besigheid begin?
            Wat kan ek doen om dit anders as soortgelyke besighede te maak?
            Wie is my ideale kliënt?
            Wat wil ek in die eerste jaar bereik?
            Watter stappe moet ek neem om my doelwit(te) te bereik?
            Wat gaan die koste wees?
Spuitverf tegniek op kombuiskaste
            Wat gaan my prys strategie wees?
           
Miskien sal sit moeilik wees om aan die begin sommige van hierdie vrae te beantwoord en sal jy aanpassings moet maak soos jy vorder maar dit sal verseker dat jy jou besigheid in die regte rigting stuur. Dit is ook belangrik dat jy ‘n sogenaamde “SWOT” analise sal doen om vas te stel wat jou sterkpunte, swakpunte, geleenthede en bedreigings is. Met hierdie inligting  is jou kanse op sukses net soveel beter.

By die beantwoording van die vrae kan jy die volgende in aanmerking neem:

Hoekom ‘n verfbesigheid begin?

Daar kan baie redes wees om ‘n tuisbesigheid soos hierdie te begin. Dalk het jy al ou meubels as ‘n stokperdjie geverf en gerestoureer. Miskien is jy afgetree en wil jy jou pensioen aanvul of wil jy jou gewone inkomste aanvul en wil jy jou vrye tyd meer produktief en konstruktief aanwend. Miskien ken jy mense in die meubelbedryf wat van jou dienste gebruik kan maak. Miskien weet jy van iemand wat so iets doen en skynbaar geld daaruit maak. Wat ookal die rede(s) is behoort jy konstruktief daaroor na te dink en dit neer te skryf as riglyn vir die ontwikkeling van jou besigheid.

Wat kan my besigheid anders maak?

Om effektief in die markplek mee te ding moet jy probeer om unieke verkoopspunte of “unique selling points” (USP’s) te ontwikkel. Hoekom sal mense noodwendig van jou dienste gebruik maak? Is jy goedkoper? Bied jy spesiale kortings aan? Doen jy aflewerings? Het jy unieke vaardighede soos om met verftegnieke te werk? Gebruik jy meer gesofistikeerde verftegnieke soos om te spuitverf? Kan jy ‘n reeks dienste verskaf wat meer is as om net te verf?
Wanneer jy jou dienste bemark, is dit die dinge wat jy wil beklemtoon en wat jou van ander verskaffers onderskei.

Wie is jou ideale kliënt?

As jy weet wie jou teikenmark is kan jy jou strategie daarop fokus en so verhoed dat jy onnodige tyd en geld mors op pogings wat nie vrugte sal afwerp nie. In my tuisbesigheid fokus ek hoofsaaklik op die verf van ingeboude kaste want ek het ‘n spesiale reëling met ‘n kasvervaardiger om al sy verfwerk vir hom te doen en sodoende kan hy op sy primêre taak  (naamlik om kaste te bou) fokus. Daarbenewens het ek ook ander besighede soos binnehuisversierders en tweedehandse meubel winkels. Aan die begin het ek hoofsaaklik aan privaat mense dienste verskaf en alhoewel ek dit steeds doen is dit nie my hooflyn van inkomste nie.

Wat wil jy in jou eerste jaar bereik?

Slegs as jy doelwitte het kan jy groei. Doelwitte hoef nie noodwendig net monitêr van aard te wees nie. Dit kan aspekte insluit soos om nuwe verftegnieke aan te leer, of om ‘n spesifieke teikenmark te penitreer. Dit kan wees om ‘n handelsnaam/merk te vestig of om ‘n lojale kliënte basis daar te stel. Wat dit ook al is, onthou ook om realisties te wees sonder om minderwaardige doelwitte te stel – dit moet steeds ‘n uitdaging wees!

Watter stappe gaan jy neem om jou doelwitte te bereik?

Hierdie is ‘n voor- die -hand liggende vraag om te vra. Programme soos advertensieveldtogte, strooibiljette, radio en internet bemarking, besoeke en telefoongesprekke moet oorweeg word. Ek vind dat as ek op ‘n weeklikse basis my kliënte kontak om te verneem of daar moontlike projekte in die pyplyn is, dit hulle aktiveer om op te tree.

Spesiale promosies kan van tyd tot tyd aangebied word om sodoende jou marksegment te vergroot.

Wat gaan dit kos?

Dit is natuurlik die miljoen dollar vraag. Dit help nie jy het grootse idees maar jy kan dit nie bekostig nie. Daarom is dit belangrik om ‘n promosie begroting op te stel sodat jy kan seker maak dat dit nie jou besigheid (veral in die begin) nadelig sal beïnvloed nie. Dit help ook om te probeer bepaal wat jy as ‘n opbrengs op jou belegging kan kry met jou bemarkingspogings.

Wat gaan jou prys strategie wees?

Alhoewel jy in besigheid is om ‘n wins te maak, moet jy jou ook nie uit die mark prys nie. Jy moet weet wat jou mededingers vra en ook wat bekostigbaar is, veral vir jou  kommersiële kliënte. As jy weet dat jy ‘n konstante werkvloei sal hê en dat jy ‘n billike wins kan maak, is dit die moeite werd om vir groter kliënte ‘n mededingende prys te vra sodat albei partye daarby kan baat.
In die meubel verfbedryf is dit nie altyd maklik om ‘n prys te bepaal nie maar daar is modelle wat gebruik kan word. In my boek “Refinishing old furniture – start a home business” gee ek ‘n gedetaileerde uiteensetting van die stelsel wat ek oor die afgelope jare ontwikkel het en wat uitstekend vir my werk.

Thursday, 22 September 2016

Hoe om ou verf van meubels te stroop



Daar is verskeie maniere om ou verf van meubels te stroop.

  • ·         Stroop met die hand of met ‘n elektriese skuurmasjien

  • ·         Stroop met ‘n chemiese verfstroper

  • ·         Stroop met hitte

Gebruik van skuurpapier

Die verwydering van ou verf is soms noodsaaklik voordat jy met ‘n nuwe laag verf begin. Dit is veral noodsaaklik as die ou verflaag reeds begin skif of kraak. Dit is belangrik om die regte skuurpapier te gebruik. Die verkeerde keuse kan die hout beskadig of dit kan dit moeilik maak om die verf te verwyder.

Die algemene beginsel is om eers met ‘n growwer skuurpapier te begin en dit dan met ‘n fyner papier op te volg om die skuurmerke van die growwer papier te verwyder. Ek hou daarvan om met ‘n 80 of 100 grint papier te begin en dan met ‘n 220 grint of selfs fyner af te rond. Die doel is natuurlik om die hout oppervlak so glad as moontlik te kry. Onthou die verf sal nie die swak afwerking verberg nie – selfs al word dit gespuitverf. Die goue reël is “begin glad, eindig glad”.

Die regte metode is om altyd in die rigting van die houtgrein te werk. Wanneer jy met groot, plat oppervlaktes werk moet ‘n skuurblok verkieslik gebruik word om te verseker dat ‘n egalige skuuraksie gebruik word. 

Skuur met die hand is maar altyd ‘n tydrowende besigheid en dit vereis nogal geduld. Daarom is dit maar die beste om dit meganies met ‘n skuurder te doen. Dit is ongelukkig so dat daar sekere areas is soos hoekeis, ronde oppervlaktes ens. wat net met die hand gedoen kan word. My uitgangspunt is altyd om te kyk of jy nie kan wegkom daarmee om so min as moontlik te skuur nie. Die probleem is egter dat wanneer jy met ou meubels werk dit bykans altyd so is dat die ou verf ‘n oliebasis het en dan kan jy nie met waterverf direk daaroor verf nie want die olie slaan geel kolle deur die bolaag. Die oliebasis verf moet dus of verwyder word of geseël word voordat jy waterbasis verf aanwend.
Wanner jy skuurpapier koop moet jy daarop bedag wees dat daar spesifieke papier is vir hout en ander vir metaal. Daarbenewens kry jy ook nog droë- en nat skuurpapier. Vir houtwerk, gebruik liefs droë skuurpapier wat spesifiek vir hout geskik is.

Chemiese verfstroper

Chemiese verfstroper is ongetwyfeld die maklikste en vinnigste manier om ou verf te stroop. Daar is twee tipes beskikbaar – oliebasis en waterbasis. Die waterbasis het ongetwfeld baie meer voordele en my persoonlike keuse is die waterbasis tipe omdat:

  • ·         Dit is baie veilger om te gebruik want dit affekteer nie die oë en hande so erg nie

  • ·         Dit is bykans reukloos

  • ·         Toerusting word maklik met water gewas

  • ·         Bevat nie skadelike stowwe soos etileen chloried nie en is nie flambaar nie.

Dit is redelik maklik om te gebruik en jy hoef slegs die vervaardiger se voorskrifte te volg. In Suid Afrika vervaardig Plascon ‘n waterbasis stroper wat my gunsteling is. Dit is ‘n dik jel en kleef goed aan vertikale oppervlaktes. Die jel word mildelik met ‘n kwas aangewend en dan vir 10 tot 20 minute gelos om sy werk te doen. Sodra die verf begin krummel, neem jy ‘n verf skraper en skraap die verf so goed as moontlik weg. Onthou dis maar ‘n morsige besigheid en dit is raadsaam om ‘n geskikte houer byderhand te hê om die verf te in te stort. Dit is soms nodig om ‘n tweede laag op te sit . Sodra die meeste verf af is, is die finale stap om die stroper te neutraliseer met water voordat die gelaat word om droog te word. Ek neem ‘n gewone potskraper en verwyder die laaste bietjie verf en dis veral handig vir daardie plekkies wat andersins moeilik bereikbaar is. Neem dan ‘n natlap en vee die oorblywende stroper weg.

Nadat die hout behoorlik droog is, kan dit met skuurpapier afgewerk word tot ‘n gladde oppervlakte. Die stroop proses veroorsaak soms dat die houtgrein loskom en fyn “haartjies”op die oppervlak vorm. In so ‘n geval moet die hout eers met ‘n “sanding sealer” behandel word.

Stroop met hitte

Daar is hoofsaaklik twee stukke gereedskap vir hitte stroping – die sogenaamde “heat gun” en die blaasvlam (“blow torch”). Die grootste verskil is dat die blaasvlam ‘n oop vlam het en die “heat gun” blaas warm lug soos ‘n haardroër oor die oppervlakte. Die blaasvlam is natuurlik baie meer agresief en dit moet baie versigtig hanteer word om te verhoed dat die hout brand. Na my mening is dit nie eintlik geskik om verf van meubels te verwyder nie – veral as dit ‘n waardevolle stuk is. Die warm lug blaser werk meer sagkens en sal nie sommer die hout beskadig nie.

Met enige van die twee stukke gereedskap moet dit omtrent 150 tot 200 mm van die oppervlakte gehou word. Dit moet gedurig beweeg want sodra jy dit stil hou gaan die hout beskadig. Sodra die verf begin smelt moet dit met ‘n verfskraper verwyder word.

Verf sonder om ou verf te verwyder

Daar is natuurlik die alternatief om direk oor die ou laag te verf. As dit ‘n waterbasis verf is, kan jy direk daaroor verf. As dit ‘n oliebasis is kan die volgende stappe geneem word:
·         Was die oppervlakte met ‘n oplossing van suikerseep om vullis en olierigheid te verwyder.
·         Sodra dit droog is word die oppervlakte met ‘n 220 grint skuurpapier liggies geskuur
·         Nou word die hout geseël met ‘n waterbasis seeler soos Plascon se Glaze Coat
·         Wend nou die bolaag met waterbasis verf aan
Indien geel merke steeds deurslaan, seël weer en verf dan.

Toets om vas te stel of dit water- of oliebasis verf is

‘n Maklike toets is om vas te stel of dit ‘n oliebasis verf is, is om gewone spiritus op ‘n lap te sit en dit op die oppervlakte te vryf. As die lap met die verf verkleur of die verf sag word, is dit ‘n waterbasis verf. As niks gebeur nie is dit waarskynlik ‘n oliebasis verf.

 Kry verdere inligting

As jy belangstel om meer te weet van die restourasie van ou meubels en hoe om dit te spuitverf kan jy gerus my boek "Refinishing Old Furniture - start a home business." by T N van der Walt op Amazon gaan kry.

Thursday, 30 June 2016

Geverfde meubels

Toonbank met maroon bolaag en lig groen onderlaag.
Ek is die afgelope 5 jaar doenig met die restorasie en verf van ou meubels en kombuiskaste. Ek maak hoofsaaklik van 'n kompressor en drukspuit gebruik maar met sommige verftegnieke kan jy nie anders as om 'n verfkwas te gebruik nie. Daar is natuurlik 'n groot verskeidenheid verftegnieke maar ek gebruik hoofsaaklik tegnieke soos veroudering (distressing) en "layering" waar meer as een kleur op mekaar geverf word en die boonste op sommige plekke weg geskuur word om die onderste laag te wys.

Rottang en "wicker" meubels verf ook baie goed - veral met spuitverf. Die lugdruk spuit kom maklik tussen al die gleufies in en werk vinnig en die verf dek maklik op rottang.

Wicker stoel in wit
Die stoel op die foto was in 'n swak toestand en die gevlegde ratan het plek-plek al begin swart word. Die stoel is dus eers behoorlik met suikerseep gewas om al die stof en aanpaksels weg te kry. Daarna is die stukke rattan wat los gegaan het met 'n krammasjien vas gekram. Die eindresultaat was ongelooflik.

Rottang stoele in wit
Die rottangstoele en tafeltjie was ook in 'n swak toestand maar met 'n bitejie geduld en my spuit kon ek hulle weer nuwe lewe gee.

Voordat jy daaraan dink om van die ou afgeleefde meubelstuk ontslae te raak, kan jy dit gerus probeer verf. Dit is maklik en die ou stuk sal weer soos nuut lyk.

Monday, 27 June 2016

Die Beste Masker Vir Spuitverf

3M Half Masker
Omdat spuitverf skadelik kan wees as jy die verfsproei sou inasem, is dit absoluut noodsaaklik dat jy ‘n goeie gesigmasker sal dra. Daar is natuurlik baie soorte op die mark maar die belangrikste is dat dit geskik moet wees vir spuitverf. Dit beteken dat die filterkasette in staat moet wees om organiese gasse en verfdampe te kan absorbeer en om stofdeeltjies te kan opvang voordat jy dit inasem. Dit is ook ablsoluut noodsaaklik dat daar genoegsame ventilasie van lug moet wees in die verflokaal sodat verfsproei weggevoer kan word. Maak dus seker dat jy deure en vensters oopmaak of gebruik ‘n waaier om die lug uit die ruimte te suig.

Soorte gesigmaskers
Die mees algemene tipe maskers is die volgende:

Lugsuiweringsmasker (Air purifying respirator of APR)
Lugvoorsieningsmasker ( Air supplied respirator of SAR)

Die eerste tipe werk met filterkasette wat gevul  is met absorberende materiaal soos koolstof korrels wat in staat is om gasse te absorber. Party bevat ook ‘n stof filter wat saam met die kasset ge-installeer word.  Die maskers pas gewoonlik styf op jou gesig en verhoed die insyfering van lug langs die kante. Die volgende soorte lugsuiweringsmaskers is beskikbaar:

                Kwart masker – bedek slegs die neus en mond.
                Half masker – bedek die ken, neus en mond.
                Vol masker – bedek die hele gesig. Dit beskerm ook die oë.

Die tweede tipe masker ( lugvoorsieningsmasker) maak gebruik van 'n kompressor om lug direk in die masker in te voer.  Dit is belangrik dat die lug wat voorsien word aan minimum standaarde vir suiwer lug en voginhoud moet voldoen. Die tipe stelsel is meestal vir groot spuitverf toepassings en ek sou dit nie vir DIY of klein werke aanbeveel nie. Die vol- en half maskers is meer as voldoende vir ‘n tuisbesigheid.

Masker onderhoud
Filters moet gereeld nagegaan word om te verseker dat dit lugdig pas en dat die filters nog goed funksioneer. Die filters het ‘n beperkte leeftyd en moet vervang word sodra dit nie meer die verfdampe absorbeer nie. Sodra die filter versadig is sal jy dit dadelik agterkom omdat jy die verf sal ruik of proe terwyl jy die masker op het. Die beste is om die voorskrifte van die vervaardiger streng te volg. Na my mening is die 3 M maskers by verre die beste en alhoewel hulle heelwat duurder is as meeste ander make, sal jy in die lang duur die beste diens van hierdie maskers kry.

Omdat die filters duur is, kan jy in die versoeking kom om hulle so lank as moontlik te gebruik maar dit moet vervang word op basis van die volgende oorwegings:

 Sodra jy die verf kan ruik of proe.
             Wanneer dit gereeld gebruik word moet dit na 40 uur gebruik vervang word.
             Vervang die filters as die vervaldatum bereik word.
             Vervang die filters na 6 maande selfs al was dit nooit gebruik nie.

Nuwe filters moet in die lugdigte verpakking gehou word totdat dit gebruik word. Die rede hiervoor is dat die koolstof gasse uit die atmosfeer absorbeer selfs al is dit nie in werking nie.

Aanbeveling
Ek sal dus aanbeveel dat jy in ‘n half- of volgesig 3M masker belê en dat jy die bruin filterkasset gebruik wat spesifiek bedoel is om verfdampe en stof te filtreer. Dit is nie die moeite werd om die goedkoper tipes te gebruik nie want jou gesondheid kan op die lang duur daaronder lei.

Onthou dat as jy ‘n half gesig masker gebruik, moet jy ook jou oë beskerm deur ‘n geskikte veilgheidsbril te dra.

Indien jy meer inligting oor maskers en ander veiligheidstoerusting verlang, kan jy my gerus kontak deur ‘n e-pos te stuur.

Saturday, 18 June 2016

Kies die regte kompressor vir spuitverf



As jy ernstig is oor die spuitverf van meubels en kaste, moet jy die regte lug  kompressor aanskaf wat genoeg saamgeperste lug sal verskaf om die spuit doeltreffend te laat funksioneer. Daar is baie soorte kompressors op die mark. Vir spuitverf sal die tipe kompressor afhang van die tipe spuit wat jy gaan gebruik. Wanneer jy ‘n spuit aanskaf moet jy kyk na die gemiddelde lug verbruik in KVM ( kubieke voet per minuut) of Liter/minuut asook na die werkdruk (Bar of psi – “pounds per square inch”) waarmee die spuit teen optimum sal spuit. Die kompressor moet dus minstens die gevraagde lug volume en druk kan verskaf – ook genoem FAD of “free air delivery”. Onthou dat gravitase spuite minder lugdruk benodig as suig spuite. Die mees algemene spuit wat vir meubels gebruik word is die sgn. HVLP (“ high volume low pressure”) spuite. Dit spuit ‘n hoë volume verf teen ‘n lae druk. Maak dus seker dat die kompressor ‘n hoë volume lug kan produseer.

Daar is hoofsaaklik twee tipes lug kompressors. Die direkte aangedrewe kompressor en die belt aangedrewe kompressor. Eersgenoemde is meer bedoel vir stokperdjie beoefenaars terwyl die tweede meer geskik is vir werkswinkel toepassings. 

Die direkte aangedrewe kompressors is gewoonlik heelwat goedkoper as die belt kompressors en is geskik vir lae volume werk teen laer lugdruk. Die belt kompressors lewer meer saamgeperste lug teen hoër druk maar is ook heelwat duurder.  Die eersgenoemde het natuurlik ook ‘n kleiner tenk (gewoonlik 50 liter) terwyl die belt kompressor kom met tenks wat wissel van 100 liter tot meer as 200 liter.

Om die regte grootte te kies moet jy dus hoofsaaklik na die volgende twee aspekte kyk:

1.      Die lewering van lug in kvm of psi. Die kleiner kompressors kom gewoonlik met ‘n twee perdekrag motor en lewer 7 kvm. ‘n Drie PK motor lewer ongeveer 10 kvm.
2.      Die grootte van die lugtenk. Die 50 liter hou nie veel lug nie en as jy redelik groot oppervlaktes gaan spuit, moet jy soms wag met die spuit totdat die tenk weer op kapasiteit is. Die 100 liter hou genoeg lug om redelik ver te spuit voor die tenk se kapasiteit te laag raak. As jy ‘n 3 PK motor het, sal dit die tenk weer binne ‘n minuut of wat op kapasiteit kry terwyl jy kan aanhou om te spuit.

As jy ‘n beginner is en nie te veel spuitwerk gaan doen nie ( ongeveer 5-10 uur per week) en jy gebruik ‘n standard HVLP gravitasie spuit, sal ek aanbeveel dat jy begin met ‘n goedkoop 2 PK kompressor met ‘n 50 liter tenk. Die voordeel van die kleiner kompressor is dat dit natuurlik baie ligter is en dus maklik vervoer kan word – veral as jy op die terrein moet werk. 

As jy meer gevorderd is met spuitwerk en jy sp
100 L kompressor 3 PK motor
uit gereeld redelik groot oppervlaktes ( veral kombuiskaste en groot meubels) sal ek beslis aanbeveel dat jy gaan vir die 3 PK motor met 100 liter tenk. Dit is wel duurder maar jy gaan soveel meer gedoen kry en werk van ‘n hoë gehalte kan lewer.

Hoe Om Spuitverf Toerusting Te Gebruik

As jy daaraan dink om meubels te spuitverf is dit belangrik dat spuitverf toerusting reg gebruik word. Die regte gebruik van die kompressor...